Alikreukels

Die Reuse-Alikreukel (Turbo sarmaticus) is ‘n tipe slak en kom slegs aan die oos- en suidkus van Suid-Afrika voor. Dit het ‘n pragtige perlemoenagtige skulp en selfs al is dit nie meer so jonk nie, is dit nog steeds bruikbaar. Dit is dan ook waarom die naam Alikreukel gekies is vir die silwerjarige groep in ons gemeente (en nie vir die hoeveelheid plooie nie)!. Hul doelwit is om nog steeds aktief te wees in die gemeente en nog aan ander plesier te verskaf. Hulle kom die tweede Vrydag van elke maand bymekaar en aktiwiteite wissel van Bybelstudie, uiteet, vleisbraai, ens. Daar word lekker gekuier, ietsie geleer, ietsie gedeel en so gaan almal weer uitmekaar, versterk na die innerlike en uiterlike. Jan Aucamp staan aan die spits van sake en nooi ook alle swaeltjies uit om lekker te kom saamkuier tydens hulle jaarlikse verblyf hier aan die kus.