Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk Suidkus
Voor 1972 was die huidige Suidkus-gemeente (toe genoem Margate)’n wyk van Durban en dienste het in die ou stadsaal van Margate plaasgevind. Tot 1981, toe die nuwe kerk in gebruik geneem is, het dit dikwels gebeur dat die saal eers op ‘n Sondagoggend “skoongemaak” moes word (drankbottels, glase, ens.) voordat die diens kon begin. Van die ouer garde dink met nostalgie terug aan die bywoning van hierdie dienste gedurende vakansies.
Op 2 Julie 1972 het ons afgestig van Durban. ‘n Kanselbybel met die handtekeninge van sommige van die sowat 90 destydse gemeentelede, asook ‘n kort opsomming van die geskiedenis, is tans nog op die kansel. Ds. A. le R. du Plooy het hierdie gemeente, wat uit 5 wyke bestaan het, bedien.
Ds. Postma van Pietermaritzburg het die dienste tydens die afstigtingsgeleentheid waargeneem. Met die oog op kerkbou is ‘n erf in Margate deur br. Wandrag – wie se vrou ook die orrelliste was – geskenk. Met dankbaarheid moet gemeld word dat bykans die hele land bygedra het om ‘n kerkgebou hier te kry deur te help met pannekoek-bak en ander funksies tydens vakansies.
Na ‘n aanbod van die NG-kerk in Port Shepstone in 1981, is daar besluit om die erf te verkoop en die prinslike som van R110 000.00 te betaal vir die huidige kerkgebou. Die oorsponklike gebou is in 1953 voltooi en in 1972 vergroot deur ‘n galery aan te bring. Sodanige koop is afgehandel en op 1 September 1981 het ons die eienaars van die kerk geword. Die kerkgebou is amptelik op Saterdag, 14 November 1981 in gebruik geneem.
Onder leiding van ds. Peet Coetzee en gemeentebroeders (en -susters) is ‘n saal aangebou asook verbeterings aan die moederskamer en toiletfasiliteite wat amptelik op 14 November 1999 in gebruik geneem is.
Predikante van die gemeente
| Datum: | Predikant: |
|---|---|
| 1972 – 1973 | Ds. A. Le R. Du Plooy |
| 1974 – 1974 | Ds. A.G.P. Vd Walt |
| 1975 – 1977 | Ds. D.H.P. Wijnbeek |
| 1979 – 1982 | Ds. P.J. De Klerk |
| 1982 – 1985 | Ds. E.W. Meyer |
| 1986 – 1991 | Ds. D.J. v R Postma |
| 1992 – 2003 | Ds. P.J. Coetzee |
| 2003 – 2008 | Ds. D.J.P. Venter |
| 2009 – 2020 |
Ds. H.G. Schutte |
Sedert 2020 word daar gebruik gemaak van hulpdiens-predikante.