Inligting vir vakansiegangers en swaeltjies

Ons wens alle besoekers en swaeltjies ‘n baie lekker rustydjie toe.  Net vir algemene inligting die volgende: *  Erediens, 09:00 *  Pannekoekbak by Margate Mardigrass – elke Woensdagaand van die vakansie.  Kom besoek ons gerus by ons stalletjie langs die Poskantoor. *  Swaeltjies – voltooi asb. die inligtingsvorm wat in die voorportaal beskikbaar is, sodat ons kan kontak hou terwyl julle hier by ons kuier. Lekker kuier!

Informele Diens, 21 Junie 2015

Almal word hartlik uitgenooi na ons informele diens op Sondag, 21 Junie 2015 om 10:30.  ‘n Sanggroepie olv Charmaine Wagenaar gaan die sangbegeleiding waarneem en ds Garrie gaan praat oor die kweek van goeie geloofsgewoontes.   Christene besit groot vryheid oor hoe ons ons dag kan inrig.  Ons het sekere beginsels waarvolgens ons leef, maar ons het nie ’n wettiese godsdiens wat ons hele lewe verslaaf nie.  Dit is ’n wonderlike voorreg, maar ook ’n groot uitdaging. Ons kan nou ons lewe tot ’n groot mate inrig volgens ons omstandighede.  Aan die ander kant kan ons maklik verval in ’n godsdiens wat nie gerugsteun word deur goeie gebruike nie.  Ons gebruike behoort ons te help sodat ons getrou ons geloof prakties kan uitleef.   Ons hele lewe is vol van gebruike en gewoontes.  Van die oggend dat ons opstaan tot selfs wanneer ons gaan slaap.   Goeie gewoontes, die manier hoe ons gewoond is om dinge te doen, bevorder alle fasette van ons lewe.  Gewoontes bepaal egter nie ons geloofslewe nie, maar ondersteun ons uitleef daarvan.  Daarom moet gewoontes verander wat ’n belemmering daarvan is of word.   Kweek goeie gewoontes.  Dit sal net ons verhouding met die Here en ons naaste verryk.  

Basaar, 30 Mei 2015

    Lus vir daardie spesiale tuisgebakte stukkie beskuit of ‘n vingerleklekker sosatie? Wat van basaarpoeding, pannekoek, vetkoek met maalvleis of ‘n heerlike stukkie koek? Op soek na ‘n winskopie boek of plant? Nou ja, dan is ons basaar volgende Saterdag net die ding.  Moet dit nie misloop nie! Ons skop reeds 8:00 af met ‘n heerlike boere-ontbyt: maalvleis, spek, eiers, tuisgebakte brood, ens.  Vir meer inligting kontak gerus vir Liana Schutte by sel 084 581 3809.  

Hemelvaartdiens, 14 Mei 2015

Ons hemelvaartdiens vind DV plaas op Donderdag, 14 Mei 2015 om 18:00.  HK Sondag 18, vraag 49:  Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?  Antwoord:  Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is.  Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem.  Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur deur wie se krag…

Informele Diens, 10 Mei 2015

Dit is met dankbaarheid teenoor God dat ons kan berig dat ons informele bediening nou gegroei het tot ‘n volwaardige informele diens.  Die eerste diens vind DV op 10 Mei 2015 om 10:30 plaas.  Die tema is:  Hoe kry die duiwel vatkans op my lewe? Die duiwel is ’n werklikheid.  Hy is daarop uit om my as God se kind groot skade aan te doen.  Hy sal elke geleentheid met albei hande aangryp as hy ons kan beetkry. Ons word beskerm deur die Here.  Tog gee die Here vir ons vryheid om keuses te maak en daardie keuses in ons  lewens uit te voer.  As ons ongehoorsaam aan die Here raak, skep ons geleenthede, gee ons aan die duiwel  openinge om ons binne te val.  Hy lê elke dag en loer op ons soos ’n roofdier wat sy prooi bekruip.  Speel ons saam, storm hy,   oorweldig hy, beseer hy. In Efesiers 4: 27 word ons gewaarsku om nie vir die duiwel ’n houvas op ons lewe te gee nie.  Ons doen dit as ons iets in ons lewe ‘n “te” maak, ons daarmee oorboord gaan, dit wat eintlik geoorloof is, sonde te maak.  Die voorbeeld wat vir ons genoem word, is kwaadword.  Daar is niks mee fout om vir die regte redes kwaad te word nie, maar as dit oorgaan in haatdraendheid, vergelding, bitterheid, gevloek, geskel, ens. skep ons openinge vir die duiwel.  Ons maak onsmeer weerloos teen sy vyandige aanvalle.   Hy sal alles in sy vermoë doen om die slegte situasie verder te misbruik en  aan te blaas. Ons keer die duiwel se misbruik as ons aan onsself werk om nie tot die aand toe kwaad te bly nie.  Ons behoort alles in die stryd te werp dat iets, wat self nie sonde is nie, nie in ons lewe tot sonde ontwikkel nie.  Dan trek ons die nuwe mens aan wat in die lig lewe.

Aktiwiteite vir die tweede kwartaal

Die somer is amper iets van die verlede en so saam met die naderende winter, begin ons ook die tweede kwartaal. Gelukkig is daar so baie lekker dinge in die vooruitsig vir hierdie kwartaal dat ons sommer gaan vergeet van die winter! Die belangrikste is natuurlik ons basaar op 30 Mei, maar daar is ook al die Bybelstudies, lekker kuiers en natuurlik is dit ook hemelvaart en pinkster gedurende hierdie tyd. Maak gerus ‘n nota van al die datums (onder Aktiwiteite hier langsaan) en maak…

Informele Bediening, 12 April 2015 om 10:30

Tatoeëring en “piercing” van my liggaam – in of uit? Al meer mense in die Westerse wêreld begin om hulle liggame te tatoeëer en allerlei “piercings” aan te bring. Sportmanne, skoliere, studente, motorfietsyers en ander bring so kleiner of groter veranderings aan hulle liggame aan. Hoe moet ons daaroor dink? Mag dit? Wat leer die Bybel ons? Verbied die Here dit? Wat hou dit in dat my liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is? Wat leer ons uit die sesde gebod daaroor? Kan ek…

Inligting vir vakansiegangers

Ons verwelkom alle vakansiegangers aan die Suidkus en wens julle ‘n heerlike rustydjie toe. Vir julle gerief die volgende inligting oor ons eredienstye: Goeie Vrydag 09:00 Sondae 09:00 Kom kuier gerus ook vir ons by die pannekoekstalletjie langs die poskantoor tydens die Margate Mardigrass op 01 en 08 April. Vir meer inligting skakel gerus vir Liana Schutte by 039 682 6569.

Beroeping – leraar met spesiale opdrag

Die gemeente maak met groot dankbaarheid teenoor God bekend dat proponent Malwande Mdonga hierheen beroep is as leraar met spesiale opdrag – kerkstigting en opleiding. Ons bid hom die leiding van die Heilige Gees toe in sy oorweging van hierdie groot besluit.

Informele bediening, 15 Maart 2015 om 10:30

Tema: Sien jy die wolf in skaapsklere raak? Het iemand jou al bedrieg? Met woorde, deur iets anders voor te stel as wat dit werklik is, jou in ’n vangnet in te lei terwyl jy onder die indruk is jy kon daardie persoon vertrou? Word ons op allerlei terreine in die samelewing vadag nog steeds mislei? In die Bybel word ons baie keer gewaarsku teen bedrieërs. Paulus waarsku die gelowiges in die gemeente van Efese: “Maar bose mense en indringers sal floreer. Hulle sal aanhou…