Reformasie 500: Die Hervormers en die erediens

Die Hervormers het van die begin af die uiterste belangrikheid van die erediens beklemtoon. Die Woord moes sentraal staan. Die gemeente moes aktief deelneem. Die moedertaal moes gebruik word (teenoor Latyn). Die passiewe toekyk van die gemeente terwyl die Liturg alles doen is drasties verander.  Al die frillings en fraaiings van die Roomse erediens is hersien en vernuwe (hoewel Luther ‘n meer toegeeflike siening gehad het). In sommige gevalle het die Reformatore dalk  inderdaad oorreageer. Kunswerke en ‘windpype’ (orrels) is afgebreek en  ander instrumente verbied. (Interessant genoeg het die kerk vir die grootste deel van 1200 jaar in elk geval sonder instrumente gesing).  Daar is gevoel dat instrumente mense lui maak, die aandag aftrek van die Woord en die eenvoud versteur. (In Skotse kerke en meeste van ons swart gereformeerde kerke vandag word daar pragtig uit volle bors gesing sonder instrumente).  ‘n Orreliste sou maar moeilik in daardie tyd ’n pos gekry het! Insiggewend is ook hoe Calvyn die kinderstem gebruik het. Volgens hom was kinderstemme die suiwerste en beste klanke en daarom het hy kinders in groepe (kore?) laat voorgaan in die erediens sodat grootmense nuwe Psalms kon leer en ook die eenvoud kon navolg.  Calvyn het egter ook ander skriftuurlike liedere in die kerk toegelaat.  Nagmaal moes volgens Calvyn elke Sondag gevier word. Drie of vier maal per jaar was ‘n totale misverstand van die doel daarvan en ondenkbaar in die kerk van die vroeë eeue.  Woord en sakrament is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Vreemd genoeg… min indien enige van die Calvinistiese kerke het dit nagevolg. Om saam te vat: Die erediens is ‘n vreugdevolle, Godvererende samekoms van aktiewe lidmate waar Woord en sakrament sentraal staan.

MJL

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *