Reformasie 500: Die jong Calvyn

‘Jehan Cauvin‘ is gebore op 10 Julie 1509  in Noyon, Frankryk, van kleins af ‘n uitsonderlike kind, in die atmosfeer van die kerk, ‘n gegoede omgewing en adellike konneksies. Sy vader was die sekretaris van die biskop van Noyon. Op 12-jarige leeftyd begin hy al klerklike werk vir die biskop doen. Hy studeer  aan die Universiteit in Parys en later Orleans en Bourges in Filosofie, Regte en klassieke werke.  Lutherse Reformatoriese idees het Frankryk binnegedring wat die jong Calvyn baie aantreklik gevind het, … maar dit was gevaarlik! Die weerstand en antagonisme teen die ”nuwe ketterse” beweging het algaande toegeneem, verskeie hervormingsgesindes is vermoor. ‘n Hartsverandering vind by Calvyn plaas, hoewel hy min daaroor uitbrei. Hy  vertrek na Strasbourg, en maak ‘n ompad deur Geneve … iets wat sy lewe onherroeplik verander. Sy doel was om ‘n rustige, anonieme akademiese lewe te lei, maar die vurige predikant van Geneve, Farel het hom as ’tware voor die bors gegryp: “God sal jou rustige akademiese lewe vervloek as jy nie ag gee op die roeping om hier te bly nie.” En so begin sy werk in Geneve … wat alles behalwe rustig sou wees. Van die begin af was daar teenstand en weerstand en beland  hy en Farel in die kruisvuur van politieke twiste en woelinge … totdat hy geforseer word om Geneve te verlaat, diep seergemaak deur die haatdraendheid wat hy beleef het. Hy beland in Strasbourg waar die Hervormer Bucer was, word  predikant  van ‘n Franse vlugteling gemeente en doseer aan die universiteit … ‘n ideale kombinasie  vir die briljante jong man se verdere vorming.
MJL

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *