Reformasie 500: Ecclesia Semper Reformanda  

Hier volg die laaste artikel in ons reeks oor Reformasie 500. Weereens baie dankie aan Thys Lourens wat dit vir ons geskryf het. Wat ‘n voorreg om te kan sien hoe God sy kerk deur die eeue bewaar het en nog steeds bewaar!

 

 

Die kerk is gewortel en gegrond in die versoeningswerk van Christus wat uit genade aan ons geskenk word, deur die geloof aanvaar word, met die Skrif as hoogste gesag, tot eer van God. Dit is deur sommige genoem: die suiwer ortodoksie.
Bogenoemde  kernwaarheid van die Reformasie,  wat volgens sommige dateer uit die Hollandse Calvinisme, beklemtoon die feit dat die kerk voortdurend in dinamiese groei en verandering verkeer, en homself voortdurend moet toets aan die Woord.  Tydens die vieringe van Reformasie 500 in Potchefstroom het ‘n Teologiese professor die twee fasette wat daaruit voortvloei belig: Eerstens die Ortodoxie, dws die suiwer leer, waarop die kerk gebou is. Die pilaar en grondslag van die waarheid. Daarvoor het baie van ons voorouers die hoogste prys betaal. Maar daaruit moet voortvloei die Ortopraxie, die daad, die praktiese uitvoering van ons geloof. Terwyl die volgende era vir ons nou voorlê is die groot vraag: waar lê die grootste uitdaging vir die  kerke wat die afstammelinge is van die 16e eeuse Reformasie? Klou ons krampagtig vas net aan die eerste deel, maar verwaarloos die tweede? Ons mag die feit dat baie kerke kwynend is, en die eenheid verskeur is, nie gelate aanvaar nie. Wat sien die wêreld as hy na die kerk kyk? ‘n Liefdevolle uitreikende liefdesgemeenskap van gelowiges wat self die lig is maar ook die Lig uitdra in ‘n donker wereld in gehoorsaamheid aan die sending opdrag? Of ‘n kerk met geslote deure wat bang is vir die uitdagings van die 21ste eeu? Mag die Here ons deur sy Gees die krag en genade gee om onbevrees getroue getuies van die “Groot dade” (Hand 2:11) van God te wees tot op die dag van die Wederkoms…

MJL

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *