Blok 1 Gasvrouens (1)

Sustersbyeenkoms, 20 Augustus 2016

Wat ‘n heerlike middag was dit nie! Baie dankie aan Judy en die susters van blok 1 wat dit gereël het.  Afgesien van die gewone vergadering en lekker kuier en eet, wou ons ook meer hoor van moontlike omgeeprojekte waarby ons susters betrokke kan raak. Tharina Wessels van Palm Haven Ouetehuis in Umzumbe het ons meer kom vertel van hul werksaamhede.  Hulle versorg tans 21 bejaardes, waarvan heelwat van hulle Alzheimer lyers is. Ons wil graag veral fokus op die inwoners wat nie so gereeld besoeke ontvang nie, baie van hulle omdat hulle kinders ver is.  Ons ander gassprekers wat ons oë nog verder oopgemaak het vir die nood daarbuite was Wendy Walker en Brenda Smith van Bowlers for Babies.  Hul is by Murchison Hospitaal betrokke by ‘n projek waar hul pakkies opmaak met ‘n klompie noodsaaklikhede en dit dan gee vir moeders met pasgebore babas. Daar word maandeliks ± 200 babas gebore en baie van die mammas kom uit baie moeilike omstandighede. Ons nooi al die susters uit om by een of albei van hierdie projekte betrokke te raak.  Veral die dames wat so vlytig is met brei en hekel kan help om kombersies, truitjies, ens. te maak.  En as die vingers te styf of  te dom is vir hierdie aktiwiteite, is ‘n kontantjie altyd welkom – dan kan ons wol, ens aankoop om vir ander te gee om te verwerk.  Baie dankie aan hierdie dames wat hul Saterdagmiddag opgeoffer het om ons meer inligting te kom gee oor hul werksaamhede.  Ons bid dat God ook vir hulle sal voorsien in die fisiese en geestelike middele wat hul nodig het.  Baie dankie ook aan die susters vir die heerlike sop en broodjies en nagereg.  Ons het omtrent gesmul! Ons ontvang sulke ryke seëninge uit God se hand.  Laat ons dit ook met ander deel.

Foto onder:  Brenda Smith, Wendy Walker en Tharina Wessels

 

Brenda, Wendy en Tharina

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *