Fokustyd, week 6 – Saterdag

Saterdag – Wat van die ander? v Rom. 15: 1-13 As dissipels van Christus, word ons hier opgeroep om Jesus se manier van doen te volg in hoe jy verskille in bedieningspraktyke van ander benader. Hy het Homself nederig beskikbaar gestel vir ons groei en wat voordelig vir ons geloof sou wees – eerder as om ons net te veroordeel vir die feit dat ons selfs geen geloof gehad het nie en boonop sy vyande was (Ro 5: 8,10). Met só ‘n gesindheid teenoor mekaar kan mense eensgesind wees – op soek na mekaar se voordeel en God selfs saam aanbid. Om mekaar op hierdie manier lief te hê voor die oë van die wêreld sal bydra tot God se heerlikheid (v7). Hoe verander hierdie perspektief die manier waarop jy voortaan oor ander dink en teenoor hulle optree – al verskil jy met hulle?

Fokustyd, week 6 – Vrydag

Vrydag – Lewe in liefde en vrede v Romeine 14: 13-23 Waaroor gaan die Koninkryk van God uiteindelik? Gee nie om wat ons doen nie, ons is reeds verkeerd wanneer ons die vrede en vreugde wat die Gees van God ons gee laat los het. Elke persoon moet hul eie harte voor God ondersoek: “Is wat ek doen aangenaam vir God en dien dit sy doel?” Jou aktiwiteite behoort daarop gerig te wees om vrede te bewerk en mense op te bou in hulle vertroue in die voldoende werk van Christus (v19).

Fokustyd, week 6 – Donderdag

Donderdag – Verskillende benaderings tot die Christelike lewe en bediening. v Romeine 14: 1-12 Afhangend van hul volwassenheid in Christus, is mense op verskillende plekke in hul vryheid in Christus. Sommige voel dat, as gevolg van Christus, hulle baie vryheid het tov van allerhande moets en moenies. Ander voel weer dat hulle ontrou is aan Christus wanneer hulle vir hulself dieselfde vryheid toelaat. Die probleem ontstaan nou dat ons sondige harte wil neersien op die wat onvolwasse is of die wat volwasse is wil veroordeel. Waar pas jy? Waar verhinder dit jou vermoë om nog steeds jou broers en susters met liefde te dien? Slegs God ken ons harte en ons word hier opgeroep om die beoordeling daarvan aan God oor te laat en eerder mekaar se voordeel te soek. Gaan jy anders saampraat as mense weer staan en stoom afblaas?

Fokustyd, week 6 – Woensdag

Woensdag – Ware godsdiens? v Romeine 12: 1, 2 Die genade van God in Christus roep jou om jouself met opoffering vir sy diens te gee deur jou lewe en jou keuses. Dit is die ware kern van godsdiens, eerder as ʼn godsdiens-sisteem met rituele of tradisies waaraan jy kan deelneem sonder dat jou hart daarin is. Om op hierdie nuwe manier oor jouself te dink sal jou help om werklik agter te kom wat God se wil vir jou is. Waar is jy besig met dinge wat nie pas by Romeine 12 se definisie van ware godsdiens nie? Beoefen jy ware godsdiens, of godsdienstige rituele?

Fokustyd, week 6 – Dinsdag

Dinsdag – Jou eniste troos? v Kol 2: 13-19 v HK Son. 1 V&A 1 Die probleem onder die Christene van Kolosse, net soos met ons, is dat hulle maklik geheg geraak het aan ander dinge as Christus alleen (sola Christi). Hulle is hier onder versoeking om sekerheid en troos te gaan soek in ou bekende tradisies wat op ʼn stadium na Christus gewys het. Maar sonder Jesus het hierdie dinge net leë afgode geword. Hulle is selfs hierin aangemoedig deur skynbaar ‘goeie mense’ maar wat self ook nie meer werklik vasgehou het aan Christus alleen nie. Jy sal slegs versterk word en groei wanneer jy uit Christus self groei, eerder as om sonder nadenke staat te maak op leë gewoontes. Jou enigste troos in lewe en dood is dat jy net aan Christus behoort – hoe gerus ou bekende dinge jou dalk ook mag laat voel!

Fokustyd, week 6 – Maandag

Maandag – Pasop Kol 2: 6-10 Soms is dinge bo blink maar onder stink. Soos ‘n blink appel met ‘n wurm binne. Alles in die kerk lyk in plek. Mense kan hul saak argumenteer oor wat en hoe die ware regte manier is. Hulle kan jou aandag met goed deurdagte teorieë vang, maar sonder dat jy vasgevang word deur Christus. Vers 8 gebruik doelbewus die woord ‘gevange’ (in die  Grieks) omdat mense vasgevang word deur menslike konkoksies wat vrees en slawerny bring, eerder as deur  Christus watvryheid en vreugde bring. Ongeag die bedieningsbenadering, strukture of tradisies van julle kerk… voel jy vasgevang in die stelsel of vasgegryp deur Christus?

Fokustyd, week 6 – Inrigting

Die grondwerk is nou gedoen om jou duidelikheid te gee oor God se missie vir die kerk. Dit is om Homself in jou gemeenskap te verheerlik soos jy Christus gehoorsaam volg onder leiding van sy Gees. Soos op baie terreine van die lewe ontwikkel ons met verloop van tyd gewoontes en maniere van doen wat nie meer hierdie missie behulpsaam ondersteun nie. Planne, gewoontes en strukture wat dalk in die verlede goed gewerk het is dalk nie meer so effektief nie. Als werk ook nie noodwendig in elke konteks nie. Hierdie dinge kan selfs struikelblokke word. God se waarheid het nie verander nie, maar ons land, kulture en gemeenskappe is altyd aan die verander. Ons behoort voortdurend te hervorm (semper reformanda) en ons bedieningstyle, strukture en stelsels beter inrig om ons missie beter te dien. Om ʼn kerk se bediening beter in te rig en te belyn kan beteken dat ‘n paar veranderinge in jou kerk kan volg. Meestal maak verandering ons bang en onseker. Maar vind jou enigste troos in Jesus Christus om jou kerk getrou te lei eerder as om valse troos in bekende strukture en gewoontes te soek.

Fokustyd, week 5 – Saterdag

Saterdag – Woord en Sakramente 2 Tim 3: 14-17 & Hebreërs 4: 12,13 1 Kor. 11: 23-34   Jy mag dalk gretig soek na God se stem en werk in jou lewe… maar luister jy waar en wanneer Hy praat? By ‘n Bybelstudiegroep, ‘n erediens of in daaglikse persoonlike stiltetyd. Werk jy dan saam met wat jy daar hoor? Word jy opgewonde en versterk deur die evangelie wat in die doop of nagmaal vir jou gedemonstreer word? Dissipels van Jesus Christus moet ‘n gereelde en gesonde dieet van God se evangelie vir ons harte en gedagtes volg. Moenie geleenthede afskeep waar jy saam met ander gereeld bemoedig en versterk kan word deur wat God vir jou voorsien het in sy Woord en sakramente nie.

Fokustyd, week 5 – Vrydag

Vrydag – Jou verhouding met jou diaken(s) 1 Tim 3: 4-13; Hand 6: 1-7   Jou kerk het diakens bevestig om die eenheid van liefde en dienswerk in jou kerk te stimuleer. Hulle taak is om die gawes tussen die lidmate so te gebruik en te lei dat niemand koud gelaat word nie en dat almal toegang het tot die gawes wat hulle kort: finansieel of andersins. Hulle werk nie namens jou nie, maar is daar om jou aan die werk te kry. Volg jy hulle leiding en ondersteun jy hulle planne? Bied jy jou gawes aan en maak jy gebruik van die geleenthede om te dien? Bid oor geleenthede waar die Here jou dalk wil gebruik.

Fokustyd, week 5 – Donderdag

Donderdag – Jou verhouding met jou ouderling(e)  1 Tim 3: 1-7   God het jou spesifieke ouderling(e) vir jou gegee om jou af te rig en te ondersteun in jou dissipelskap. Soos enige afrigter, kan hulle beswaarlik help en raad gee as jy nie ‘n oop verhouding met hulle het nie. Is jou ouderling bewus van die dinge waarmee jy sukkel? Is jy bereid om hulle te vra om saam met jou te kom bid? Moenie God wantrou om jou ouderling as sy instrument in jou lewe te gebruik nie. Ouderlinge is nie volmaakte mense nie en het ruimte vir groei, maar God het gekies om julle bymekaar te pas. Bel hulle en gebruik hulle as deel van God se werk in jou lewe.