Lees Ps 91
Ons beleef tans ‘n wêreldaanslag deur die Covid 19 coronavirus. Ons word bedreig deur ‘n vyand wat ons nie eens kan sien nie. Ons kan dit nie met konvensionele wapens beveg nie. Dit maak bang, sommer baie bang. Gaan dit my ook aanval? Wanneer gaan dit my aanval? Watter gevolge gaan dit vir my en my naastes inhou?
Die digter van Ps 91 roep gelowiges op om nie baie bang te word te midde van al die bedreigings nie. Hy noem enkele bedreigings: die voëlvanger se wip, die plaag en dodelike siekte (sluit ook tans die coronavirus in), die aanvalle oordag, die sterftes gedurende ‘n veldslag, ens. Die digter is nie bevrees nie, want hy maak God sy skuilplek. Hy stel sy vertroue in Hom (v 2), het die Here lief (v 14), staan in ‘n besondere verhouding met Hom (v 14 – hy ken My) en weet watter waarde ‘n gebedslewe het (v 15). Hy is vas oortuig dat die Here hom van hierdie gevare sal bewaar.
As ons net die eerste deel van die Psalm lees, wil dit voorkom asof die digter glo dat die Here hom en alle gelowiges nooit enige gevare sal laat sien nie. Dit is egter nie waar nie. Aan die einde van die Psalm lees ons ook: “in sy nood sal ek by hom wees” (v 15). Die Here is wel so magtig dat Hy ons heeltemal die virusinfeksie en dodelike gevolge daarvan kan laat vryspring. Hy belowe egter nie dat ons alle gevare sal ontkom nie. As die gevare ons wel oorweldig, belowe Hy om ons ook te midde daarvan te bewaar. Hy sal weer uitredding en herstel bring as dit sy wil is. Hy is ‘n God wat ook ons gebede verhoor. Hy sal ook jou gebede, in geloof gebid, verseker tydens hierdie onseker tye verhoor.
Ons skuil by die Here. Hy is immers in beheer van alles. Hy waarborg in ons Here Jesus Christus immers nie net ons tydelike beskerming nie, maar ook ons ewige beskerming. Hy het alle gevare wat ons kan bedreig onder sy gesag kom stel en sy Gees as Helper gestuur om ons deur al die moelike tye te vertroos en by te staan. Hy stuur selfs sy engele om ons te beskerm.