informeledienste

Informele Diens, 10 Mei 2015

informelediensteDit is met dankbaarheid teenoor God dat ons kan berig dat ons informele bediening nou gegroei het tot ‘n volwaardige informele diens.  Die eerste diens vind DV op 10 Mei 2015 om 10:30 plaas.  Die tema is:  Hoe kry die duiwel vatkans op my lewe?

Die duiwel is ’n werklikheid.  Hy is daarop uit om my as God se kind groot skade aan te doen.  Hy sal elke geleentheid met albei hande aangryp as hy ons kan beetkry.

Ons word beskerm deur die Here.  Tog gee die Here vir ons vryheid om keuses te maak en daardie keuses in ons  lewens uit te voer.  As ons ongehoorsaam aan die Here raak, skep ons geleenthede, gee ons aan die duiwel  openinge om ons binne te val.  Hy lê elke dag en loer op ons soos ’n roofdier wat sy prooi bekruip.  Speel ons saam, storm hy,   oorweldig hy, beseer hy.

In Efesiers 4: 27 word ons gewaarsku om nie vir die duiwel ’n houvas op ons lewe te gee nie.  Ons doen dit as ons iets in ons lewe ‘n “te” maak, ons daarmee oorboord gaan, dit wat eintlik geoorloof is, sonde te maak.  Die voorbeeld wat vir ons genoem word, is kwaadword.  Daar is niks mee fout om vir die regte redes kwaad te word nie, maar as dit oorgaan in haatdraendheid, vergelding, bitterheid, gevloek, geskel, ens. skep ons openinge vir die duiwel.  Ons maak onsmeer weerloos teen sy vyandige aanvalle.   Hy sal alles in sy vermoë doen om die slegte situasie verder te misbruik en  aan te blaas.

Ons keer die duiwel se misbruik as ons aan onsself werk om nie tot die aand toe kwaad te bly nie.  Ons behoort alles in die stryd te werp dat iets, wat self nie sonde is nie, nie in ons lewe tot sonde ontwikkel nie.  Dan trek ons die nuwe mens aan wat in die lig lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *