Fokustyd – week 3: Gebed

Gesprek is nodig vir enige verhouding om te groei. Ook vir ons verhouding met God. ‘n Egpaar wat nie met mekaar praat nie sal ‘n swak en verbrokkelende verhouding hê. Ons hoor God in Sy Woord en om tot God te bid is om terug te kommunikeer. Gebed is daarom om God self teë te kom.   Gebed is nie net om God vir dinge te vra nie. Ons sien selfs hoe Jesus gereeld weg van die skare tyd alleen spandeer saam met Sy Vader in gebed. Miskien is dit die beginpunt vir ons in die herstel van ons gebedslewe. Om doelbewus tyd alleen te spandeer sonder selfone, tv’s, radio’s, musiek of ander mense. Bid hardop, dit kan jou help om jou aandag te fokus. Hou ‘n gebedslys. Bid saam met ander. Iemand het eenkeer gesê: “Ons behoort die verstomming te ken om sy heerlikheid te prys, die teerheid te beleef as ons sy genade weer sien, en die stryd om afhanklik sy hulp te vra – al hierdie dinge kan daartoe lei dat ons die werklikheid van sy teenwoordigheid ken.” 

Fokustyd, week 2 – Saterdag

Saterdag – Vergifnis van sondes is nie goedkeuring van sondes nie.     o  Matt 5: 17-20 o  Wat is die volle doel van die wet van God? o  (Rom. 7: 7-11; 10:. 4; HK Son 44 V&A 144) o  Hoe sterk voel Jesus hieroor? o  Wat was die fout wat die Fariseërs met die wet gemaak het?     Elkeen moet maar self besluit wat waar is. Om ander se gedrag te beoordeel is nie verdraagsaam nie. Dít is hoe die wêreld gekies het om sonde te hanteer. Giftige sonde word gerespekteer as alternatiewe maniere waarop mense blydskap en troos vind. Jesus hanteer sonde op ʼn baie meer liefdevolle manier. Die volmaakte wet wys eerder soos ʼn spieël ons aaklige toestand vir ons en ons desperate behoefte aan ware troos. Dít veroorsaak dat ons na die skoonheid van Christus se offer hardloop (Rom. 10: 4). Om die wet na te kom vir redding is nie genoeg nie, om die flikkerende pyle daarvan na Christus te volg is meer as wat die Fariseërs gedoen het. Maar … geen wet … geen sonde nie. Geen sonde … geen behoefte vir Christus. Geen Christus … geen verlossing. Geen redding … geen ware vrede. Christus bring vergifnis en verlossing van sonde, nie die goedkeuring van sonde nie. Watter sonde het jy om mee te breek en dan eerder na Christus te hardloop vir ware vervulling? Bid hieroor.

Fokustyd, week 2 – Vrydag

Vrydag – Vyandliefde   o  Matt 5: 43-48 o  Wie sou jy sê is jou vyande? o  Wat sal gesien word wanneer jy hulle liefde bewys (v45)? o  Diskrimineer God as Hy algemene genade uitdeel? o  Is dit dwaas om te dink hulle sal verander wanneer ons hulle nie die liefde gee wat hulle kortkom nie?   Ons is vinnig om verkeerde dinge uit te wys in die mense of situasies waarvan ons nie hou nie. Ons versamel redes waarom ons hulle mag vermy of selfs met hulle mag lelik maak: Hulle maak ons seer; Hulle het self verkeerde besluite geneem; Hulle behandel ons onregverdig. Hoeveel redes sou God hê om jou te vermy? Miskien het jy ʼn liefdelose houding teenoor ander. Maar God het ‘n ander houding teenoor jou. Waar kan jy Hom beter hierin navolg as sy kind? Bid hieroor.

Fokustyd, week 2 – Donderdag

Donderdag – Sit jy terug?     o  Romeine 12: 1-8 o  Op grond waarvan is jy geroep om jouself te gee as ʼn offer vir dienswerk? o  Hoe sentraal is hierdie daad in jou lewe? (v1c) o  Sou jy sê jy het gawes om die res van die liggaam mee te dien? o  As elke lidmaat betrokke is in hierdie bedienings, wat moet die ouderlinge en diakens dan doen? (Ef. 4:12)     Almal is nodig om die kerk op te bou vir effektiewe getuienis in jou gemeenskap. As jy nie werklik daar is nie, is jou kerk minder effektief as wat dit kan wees om jou liefdevolle God te verheerlik. Die kern van jou lewe-offer aan God is afwesig. Net jy kan weet of jou verskonings om bediening te verbruik eerder as om daartoe by te dra geldig is. Jou predikant, ouderlinge en diakens moet ook daartoe meewerk, en nie bloot probeer om alles self te doen nie. Ondersoek jou hart of jy nodig het om jouself van iets te bekeer en bid nou daaroor. Verdere leeswerk: 1 Kor. 12; 1 Pet 4:10; NGB Art 28; HK Son 21 V&A 55

Fokustyd, week 2 – Woensdag

Woensdag – Outomatiese of persoonlike geloof?     o  Romeine 10: 1-17 o  Waarom is dit belangrik om kennis te neem van die manier waarop God gekies het om sy volk te red? o  As God ‘n verbond gehad het met Israel, hoekom word hulle dan nie outomaties gered nie? o  Wat is dan nodig vir redding?     Om as ‘n baba gedoop te word waarborg nie outomaties redding nie. Ook nie eens die memorisering van baie Bybelverse of die blote deelneem aan belydenisaflegging êrens op hoërskool nie. Wat red is berou en bekering van jou persoonlike sonde, lewende vertroue in die werk van die Here Jesus Christus op so ‘n manier dat dit lei tot ‘n lewe wat vrug dra. Hoe effens ook al. Dit kan nou goeie nuus wees vir jou, wees dan vrolik! … Of dit is dalk iets wat jou diep laat nadink oor persoonlike bekering en jou gebrek aan vertroue in die Here Jesus en vrug in jou lewe. Bid hieroor. Verdere leeswerk: Matt 25: 31-46; Jak 2: 14-26; HK Son 23 V&A 60; HK 31 V&A 84

Fokustyd, week 2: Maandag en Dinsdag

Maandag – Kry jou vreugde in die Woord: Christus!   o  Psalm 1 (OAV) o  Waar soek die skrywer nie sy vreugde nie? v1 o  Waar soek hy eerder sy vreugde? o  Wat is die effek hiervan in sy lewe? o  Wie is die Woord van God (Johannes 1)?   Om ʼn persoonlike band met God te hê en te groei in jou kennis van Hom gee vreugde, is lewensverrykend en lewer vrugte. Veral as hierdie kennis nie bloot meer feite is nie, maar hartverwarmende vreugde-waarhede oor sy ryk geregtigheid en genade vir jou in Christus. Groei jy in hierdie tipe kennis van God en van Sy doel vir die skepping en jou lewe? Wat het jy nodig om te bely in die lig van Psalm 1? Bid hieroor.   Dinsdag – Wie is die baas?   o  1 Petrus 2: 1-10 o  Watter gedrag van gelowiges word aangespreek in v1-3? o  Waarom is die oproep in vers 4,5 ‘n oplossing hiervoor? o  Wat is die doel van die kerk? v9-10 o  Werk God dan vir ons, of is ons veronderstel om vir God te werk? o  Het jy sienings van die kerk waarvan jy jou moet bekeer?   Baie mense ervaar konflik in die kerk. Hulle is ontevrede met die gemeente-lewe en hulle verhoudings met ander gelowiges omdat hulle vergeet het waarvoor die kerk daar is. As jy kerk sien as ʼn plek vir ‘kry’, sal jy altyd ontevrede wees met wat jy kry. As jy dit sien as ʼn plek om raakgesien en bewonder te word, sal jy net konflik sien. As jy voel God is daar om vir jou te werk, sal jy nooit die vreugde ontdek om vir God te werk nie. Waar struikel jy in jou kerklewe en van watter gesindheid moet jy jouself bekeer? Bid hieroor.

Fokustyd, week 2 – Bekeer

Na verlede week se fokus op God se missie en heerlikheid, is dit hopelik vir jou duidelik dat jy dikwels op jou eie missie is vir jou eie eer of behoud sonder Jesus. Daar is dus waarskynlik dinge waarvan jy jouself moet bekeer, maar bekering is glibberig. Ons harte is so misleidend en selfregverdigend dat dit vir ons baie moeilik is om ons werklike sondes te sien, maar tog baie maklik om dié van ander te sien. Jy hou waarskynlik nie op die oomblik daarvan om te hoor dat jy moontlik jouself van iets moet bekeer nie. Ons is bang vir eerlike selfondersoek, om dan ons vuil gemors te sien en op te kyk in die veroordelende oë van God. Ons is bang om ons lewens te verloor. Maar hierin lê die skoonheid van die evangelie. As ons opkyk na God in eerlike belydenis … sien ons eerder die barmhartige oë van God as gevolg van Christus se voldoende werk op die kruis. Dan eers begin jy iets te lewe wat baie meer vervullend is as waarop jy jouself op spandeer het tot nou toe. (HK Son. 33) Ondersoek jou hart eerlik, bid vir duidelikheid oor jou sonde, bring jou selfgesentreerdheid na die lig van die kruis en ontdek die oorweldigende vreugde van nuwe lewe vir God in die lig van die evangelie.

Fokustyd, Week 1, Saterdag

Saterdag – Die onverwagte plekke van die missie   o Johannes 4: 1-26 o Wat leer jy uit die vrou se vraag in vers 9? o Wat is belangrik om te verstaan oor waar God aanbid kan word? vers 21-24.   Samaria was buite perke vir goeie Jode. Samaria was ‘n provinsie waar mense van gemengde ras en gemengde godsdienste geleef het. Baie Jode het met ʼn langer ompad gereis om net die plek te vermy. Jesus het nie. Hy het gegaan waar niemand anders wou gaan nie. Hy het ook in die openbaar met ‘n Samaritaanse vrou gepraat. Dit kon baie probleme vir Hom veroorsaak. Maar op daardie plek is Hy in staat om in die hart van ‘n stukkende vrou te bereik wat niemand anders sou kon bereik nie. ‘n Ondenkbare persoon in ‘n ondenkbare plek hoor van ondenkbare genade omdat Jesus gegaan het waar dit ondenkbaar was. Jesus wys haar dat enigiemand van enige plek God kan aanbid in enige gewone plek. Moet hierdie plekke of mense in jou lewe nie net vermy nie… Die missie van God roep jou dalk juis soontoe. Bid hieroor.

Fokustyd, Week 1, Vrydag

Vrydag – Die gereedskap van die missie   o Matt 5: 13-16 o 2 Tim 3: 10-4: 5 o Wat bedoel Jesus met sout en lig? o Waarom is dit belangrik dat die woorde en dade ooreenstem? o Wat is die kern van die evangelie wat mense nodig het om te hoor?   Die gereedskap van die missie is evangelie-woorde en evangelie-dade. Woorde wat die liefde van God in Christus verkondig en dade wat die liefde van God in Christus verkondig. Dit is die rede dat die hele dissipel en sy hele lewe instrumente is in die hande van die lewende Christus. Christus het spesifiek sy dissipels rondom Hom vergader in ‘n plaaslike kerk om van Hom te getuig soos hulle rondom Hom saamkom, en Hom in hul gemeenskappe in volg. Dit is waarom sy kerk ook die liggaam van Christus genoem word. Hy is op hierdie manier aktief en teenwoordig in jou gemeenskap. Is jy ‘n skerp stuk gereedskap? Bid hieroor.

Fokustyd, week 1, Donderdag

Donderdag – Die mense van die missie: dissipels o Matt 4: 18-25 o Wat beteken dissipel? o Hoekom is dit betekenisvol dat Jesus hierdie mense geroep het? o Waarom het Jesus die dinge in v23-25 gaan doen net nadat Hy hierdie mense geroep het?   ‘n Dissipel is ‘n vakleerling. ‘n Vakleerling leer vaardighede van ‘n meester deur hom dop te hou en te oefen wat hy sien. Hierdie manne was nie as jong Joodse seuns gekies om met hul godsdienstige studies voort te gaan nie. Hulle het toe vakleerlinge van hulle pa’s geword as vissermanne. Nou nooi Jesus ‘gewone mense’ om vakleerlinge in die grootste missie op aarde te word. Hulle het Hom eenvoudig vertrou en die geleentheid om ‘n Rabbi te volg aangegryp. Dan neem Hy hulle saam terwyl Hy preek oor sy koninkryk en vir hulle die omvang van Sy koningskap wys. Hulle het gekyk en was besig met opleiding. Volg jy nuuskierig daar waar Jesus jou roep? Kyk jy en word jy opgelei? Bid hieroor.