Fokustyd, week 4 – Maandag, Dinsdag en Woensdag
Maandag – Bly in Jesus! v Johannes 15: 1-8 v Wat beteken dit om in Jesus te ‘bly’? v Hoe help dit jou groei en vrugte dra? Groei en vrug kom net in jou lewe wanneer jy jou fokus en aandag hou op Jesus en sy voltooide werk aan die kruis. Die goeie nuus oor wie Jesus is en wat Hy gedoen het, is soos lewegewende sap wat voortdurend deur die takke moet vloei. Hierdie “inwoon in Jesus” maak dit vir ons moontlik om te groei en die mense rondom ons met nuttige vrugte te dien. Is daar ander aktiwiteite waarmee jy besig is met die hoop dat dit jou hart en lewe sal vernuwe? Hoe kan jy herfokus om in Christus te bly? Dinsdag – God se bestemming met jou v Romeine 8: 28-30 v Waarop is God gerig met jou as Sy dissipel? Baie dinge wat met ons in ons lewens gebeur voel soos struikelblokke in ons vordering. Terugslae, ongelukke of pyn wat deur ander veroorsaak word. Maar hier word jy daaraan herinner dat God sy doel met jou sál bereik: Hy vorm en slyp ons gedurig tot mense wat na Christus lyk. Dit is waarheen dissipels van Christus op pad is. En God beloof hier om selfs die pynlike dinge van die lewe te gebruik om jou daar te kry. Aan watter aspek van jou gedagtes, gesindheid of gedrag is God dalk op die oomblik aan die werk? Werk jy saam? Woensdag – Groei verg moeite! v 2 Petrus 1: 3-11 v Wat moet nog vir jou ‘afgelewer’ word om te kan groei? (v3-4) Party gelowiges dink soms dat geloofsgroei en ‘n veranderde lewe ‘n outomatiese proses is soos oudword. Jy moet net lank genoeg asemhaal en dan verbeter jy vanself. Dit is glad nie waar nie – al het God reeds elke bestanddeel wat jy kan benodig verskaf! Ons moet hard werk met wat Hy reeds voorsien het. Hier vind ons ‘n lys van hierdie bestanddele. Hulle moet gebruik word om mekaar te verryk. Werk aan die een veroorsaak die ander om te verbeter. Gaan dink mooi oor die invloed van elkeen op die ander. Sien ook dat al hierdie dinge begin steeds op die fondament van God se onvoorwaardelike liefde (agape) vir alle mense – gewortel in die evangelie. Om hiermee besig te wees lei daartoe dat jy meer vrug dra en Jesus Christus ook beter sal leer ken.