Welkom aan alle vakansiegangers!

Ons hoop julle het ‘n heerlike tydjie hier in ons geweste en dat julle jul vakansie geniet.  Ons herinner net aan ons eredienstye: elke Sondag om 09:00 en ook Kersdag om 09:00.  Kom kuier gerus ook vir ons by ons pannekoekstalletjie (langs die poskantoor) tydens Margate Mardigrass, 23 en 30 Desember en 06 Januarie.  Namens ons gemeente wens ons julle ook ‘n baie geseënde Kerstyd toe.  Mag hierdie Kerstyd ons ook weer opnuut God se groot geskenk aan ons laat raaksien en mag Christus die…

Inligting vir vakansiegangers

Dis amper weer tyd vir ‘n welverdiende ruskansie vir almal en ons verwelkom al die besoekers aan die Suidkus.  Mag julle heerlik rus en na liggaam en siel verkwik word.  Vir julle gerief die volgende inligting: Eredienstye:  Elke Sondag om 09:00. Versoeningsdag, 16 Des.  Erediens om 09:00 in ons kerkgebou. Kersdag, 25 Des.                Erediens om 09:00 in ons kerkgebou. Kom besoek ons gerus ook ons pannekoekstalletjie by Margate Mardigrass [langs die Poskantoor]. Vir meer inligting kontak ons gerus…

Belydenisaflegging

Baie geluk aan Nikkie Grobler en Crystil Pretorius wat vandag belydenis van geloof afgelê het.  Mag God julle ryklik seën en mag julle altyd “noukeurig let op die getroue Jesus wat ons bely”.  Baie geluk ook aan almal wat jul ondersteun het.  

Fokustyd – Feesdag

So het die einde van die fokustyd aangebreek en wat ‘n geseënde tyd was dit nie! Met groot dankbaarheid in ons harte vir God se ryke genade, het ons die fokustyd op 01 November afgesluit met ‘n spesiale erediens waar daar aandag gegee is aan die drie belangrikste aspekte van die fokustyd, nl Skuldbelydenis, verlustiging in God se Woord en om onsself as lewende offers aan God te wy.  ‘n Opsomming van die ses weke se temas is ook uitgedeel as herinnering en ook opskerping dat…

Fokustyd – Opsomming

OPSOMMING VAN FOKUSTYD 2015   Ons het die afgelope weke aan die ses stappe aandag gegee soos deurgegee deur die deputate vir kerkgroeibediening.  Hiermee wil ons ’n bewustheid skep dat ons as gemeente nog nie gearriveer het nie en ook nie regtig finaal in hierdie bedeling sal arriveer nie.  Daar sal altyd opbouwerk wees wat gedoen moet word omdat ons in ’n gebroke bedeling met snel veranderende omstandighede leef.   Ons moet die mooie en opbouende in ons gemeente waardeer.  Ons beleef op ’n besondere manier God se genade.  Hy gee ook vir ons wonderlike mense en gawes.  Maar dit moet ons juis motiveer om dit wat ons ontvang het voluit te gebruik om ons roeping te kan vervul.  Kom ons besin, ook tydens huisbesoek weer oor hierdie belangrike dinge.   WEEK 1: DIE MISSIE VAN GOD    Die missie (sending) van God verwys na die groter doelwit waarmee God besig is deur alle eeue en waarin God die Vader mense wil laat deelneem. Ons is geroep vir hierdie een doel. Die uiteindelike doel is: … Die Verheerliking van God!   Dit is eintlik niks nuuts nie. Dit was ook die groot fokus en dryfkrag van die hervormers van die hervorming: Soli Deo Gloria! Daarom, laat ons hard bid en hard werk om weer ‘n duidelike fokus op God se missie vir God se glorie te kry, met duidelikheid waar ons inpas.   Vrae: Ons is gestuurdes van die Here.  Waartoe stuur die Here ons?   Wat verwag Hy van ons as gestuurdes en hoe kan ons meer fokus daarop?   WEEK 2: BEKEER!     Ons roem daarop dat ons ’n reformerende kerk is.  Ons wil ons altyd toets in die lig van God se Woord en terugkeer na sy wil en regmaak wat verkeerd is of kortkom.  Ondersoek jou hart eerlik, bid vir duidelikheid oor jou sonde, bring jou selfgesentreerdheid na die lig van die kruis en ontdek die oorweldigende vreugde van nuwe lewe vir God in die lig van die evangelie.   Vrae: Dink jy dit is nodig dat Gereformeerde lidmate en gemeentes hulle moet bekeer sodat ons beter kan groei?  Indien nie, waarom nie?  Indien wel, noem praktiese dinge waarom dit nodig is.   WEEK 3: GEBED   Ons hoor God in Sy Woord en om tot God te bid is om terug te kommunikeer. Gebed is uiters noodsaaklik vir ons verhouding met die Here.  Ons persoonlike gebede en ook ons gesamentlike gebede.  Daarsonder word ons ondankbare mense en sal ons baie genade van die Here ontbeer omdat Hy dit van ons sal terughou.  Ons sal nie kan groei soos die Here dit van ons verwag nie.  Ons verarm onsself en ons gemeente so.   Vrae: Hoe kan ons ons persoonlike, maar ook ons gesamentlike gebede, opskerp?  Watter aandag behoort ons gebedslewe te kry sodat groter groei kan plaasvind?     WEEK 4: GROEI    Jy het nodig om te groei. Waarin moet jy groei? Liefde wat spruit uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n opregte geloof (1 Tim 1: 5). Langs die pad van individuele groei en gehoorsaamheid aan Christus in my keuses en prioriteite, gebruik Hy my ook om ander weer dissipels van Hom te maak. Dit lei daartoe dat kerke groei: in diepte, in gesondheid en met God se seën in getalle. Dít als dra by tot die heerlikheid van God, wat in staat is om dooie selfsugtige sondaars soos ek nuwe lewe te gee in diens van Christus (Ef. 2: 1 – 10)   Vrae: Watter goeie dinge in die gemeente kan ons help om beter te groei?  Watter hindernisse is daar, na jou persoonlike mening, wat ons groei as gemeente belemmer en hoe gaan ons dit regstel?   WEEK 5: TOERUS    Dit is om ander te ondersteun, aan te moedig, as gids op te tree, te lei, help, leer, onderrig, mentor, afrig.  Dit is elke gemeentelid se verantwoordelikheid teenoor mekaar, maar ook veral die ouderlinge (predikante ingesluit) en diakens.  Hulle moet die gemeente toerus vir hulle werk waardeur die liggaam sal groei. Hierdie mense is nie verkies om die ‘kerk-werk’ namens die res te doen nie.  Hulle wil juis almal in die gemeente bemagtig sodat hulle soos ’n liggaam kan saamwerk.   Vrae: Waar behoort ons beter toegerus te word sodat ons meer bekwaam ander kan opbou in die geloof?   WEEK 6: INRIG   Praat alleen is nie genoeg nie.  Die Here vra dade, geloofswerke.  Ons moet met alles in lyn kom met God se missie.  Dink hier veral aan die manier waarop ons gewoond is om dinge te doen, ons bedieningstyle, strukture en stelsels wat ons dalk beter kan inrig.  Om ʼn kerk se bediening beter in te rig en te belyn kan beteken dat ‘n paar veranderinge in jou kerk kan volg.

Fokustyd, week 6 – Saterdag

Saterdag – Wat van die ander? v Rom. 15: 1-13 As dissipels van Christus, word ons hier opgeroep om Jesus se manier van doen te volg in hoe jy verskille in bedieningspraktyke van ander benader. Hy het Homself nederig beskikbaar gestel vir ons groei en wat voordelig vir ons geloof sou wees – eerder as om ons net te veroordeel vir die feit dat ons selfs geen geloof gehad het nie en boonop sy vyande was (Ro 5: 8,10). Met só ‘n gesindheid teenoor mekaar kan mense eensgesind wees – op soek na mekaar se voordeel en God selfs saam aanbid. Om mekaar op hierdie manier lief te hê voor die oë van die wêreld sal bydra tot God se heerlikheid (v7). Hoe verander hierdie perspektief die manier waarop jy voortaan oor ander dink en teenoor hulle optree – al verskil jy met hulle?

Fokustyd, week 6 – Vrydag

Vrydag – Lewe in liefde en vrede v Romeine 14: 13-23 Waaroor gaan die Koninkryk van God uiteindelik? Gee nie om wat ons doen nie, ons is reeds verkeerd wanneer ons die vrede en vreugde wat die Gees van God ons gee laat los het. Elke persoon moet hul eie harte voor God ondersoek: “Is wat ek doen aangenaam vir God en dien dit sy doel?” Jou aktiwiteite behoort daarop gerig te wees om vrede te bewerk en mense op te bou in hulle vertroue in die voldoende werk van Christus (v19).

Fokustyd, week 6 – Donderdag

Donderdag – Verskillende benaderings tot die Christelike lewe en bediening. v Romeine 14: 1-12 Afhangend van hul volwassenheid in Christus, is mense op verskillende plekke in hul vryheid in Christus. Sommige voel dat, as gevolg van Christus, hulle baie vryheid het tov van allerhande moets en moenies. Ander voel weer dat hulle ontrou is aan Christus wanneer hulle vir hulself dieselfde vryheid toelaat. Die probleem ontstaan nou dat ons sondige harte wil neersien op die wat onvolwasse is of die wat volwasse is wil veroordeel. Waar pas jy? Waar verhinder dit jou vermoë om nog steeds jou broers en susters met liefde te dien? Slegs God ken ons harte en ons word hier opgeroep om die beoordeling daarvan aan God oor te laat en eerder mekaar se voordeel te soek. Gaan jy anders saampraat as mense weer staan en stoom afblaas?

Fokustyd, week 6 – Woensdag

Woensdag – Ware godsdiens? v Romeine 12: 1, 2 Die genade van God in Christus roep jou om jouself met opoffering vir sy diens te gee deur jou lewe en jou keuses. Dit is die ware kern van godsdiens, eerder as ʼn godsdiens-sisteem met rituele of tradisies waaraan jy kan deelneem sonder dat jou hart daarin is. Om op hierdie nuwe manier oor jouself te dink sal jou help om werklik agter te kom wat God se wil vir jou is. Waar is jy besig met dinge wat nie pas by Romeine 12 se definisie van ware godsdiens nie? Beoefen jy ware godsdiens, of godsdienstige rituele?

Fokustyd, week 6 – Dinsdag

Dinsdag – Jou eniste troos? v Kol 2: 13-19 v HK Son. 1 V&A 1 Die probleem onder die Christene van Kolosse, net soos met ons, is dat hulle maklik geheg geraak het aan ander dinge as Christus alleen (sola Christi). Hulle is hier onder versoeking om sekerheid en troos te gaan soek in ou bekende tradisies wat op ʼn stadium na Christus gewys het. Maar sonder Jesus het hierdie dinge net leë afgode geword. Hulle is selfs hierin aangemoedig deur skynbaar ‘goeie mense’ maar wat self ook nie meer werklik vasgehou het aan Christus alleen nie. Jy sal slegs versterk word en groei wanneer jy uit Christus self groei, eerder as om sonder nadenke staat te maak op leë gewoontes. Jou enigste troos in lewe en dood is dat jy net aan Christus behoort – hoe gerus ou bekende dinge jou dalk ook mag laat voel!