Fokustyd, week 6 – Maandag

Maandag – Pasop Kol 2: 6-10 Soms is dinge bo blink maar onder stink. Soos ‘n blink appel met ‘n wurm binne. Alles in die kerk lyk in plek. Mense kan hul saak argumenteer oor wat en hoe die ware regte manier is. Hulle kan jou aandag met goed deurdagte teorieë vang, maar sonder dat jy vasgevang word deur Christus. Vers 8 gebruik doelbewus die woord ‘gevange’ (in die  Grieks) omdat mense vasgevang word deur menslike konkoksies wat vrees en slawerny bring, eerder as deur  Christus watvryheid en vreugde bring. Ongeag die bedieningsbenadering, strukture of tradisies van julle kerk… voel jy vasgevang in die stelsel of vasgegryp deur Christus?

Fokustyd, week 6 – Inrigting

Die grondwerk is nou gedoen om jou duidelikheid te gee oor God se missie vir die kerk. Dit is om Homself in jou gemeenskap te verheerlik soos jy Christus gehoorsaam volg onder leiding van sy Gees. Soos op baie terreine van die lewe ontwikkel ons met verloop van tyd gewoontes en maniere van doen wat nie meer hierdie missie behulpsaam ondersteun nie. Planne, gewoontes en strukture wat dalk in die verlede goed gewerk het is dalk nie meer so effektief nie. Als werk ook nie noodwendig in elke konteks nie. Hierdie dinge kan selfs struikelblokke word. God se waarheid het nie verander nie, maar ons land, kulture en gemeenskappe is altyd aan die verander. Ons behoort voortdurend te hervorm (semper reformanda) en ons bedieningstyle, strukture en stelsels beter inrig om ons missie beter te dien. Om ʼn kerk se bediening beter in te rig en te belyn kan beteken dat ‘n paar veranderinge in jou kerk kan volg. Meestal maak verandering ons bang en onseker. Maar vind jou enigste troos in Jesus Christus om jou kerk getrou te lei eerder as om valse troos in bekende strukture en gewoontes te soek.

Fokustyd, week 5 – Saterdag

Saterdag – Woord en Sakramente 2 Tim 3: 14-17 & Hebreërs 4: 12,13 1 Kor. 11: 23-34   Jy mag dalk gretig soek na God se stem en werk in jou lewe… maar luister jy waar en wanneer Hy praat? By ‘n Bybelstudiegroep, ‘n erediens of in daaglikse persoonlike stiltetyd. Werk jy dan saam met wat jy daar hoor? Word jy opgewonde en versterk deur die evangelie wat in die doop of nagmaal vir jou gedemonstreer word? Dissipels van Jesus Christus moet ‘n gereelde en gesonde dieet van God se evangelie vir ons harte en gedagtes volg. Moenie geleenthede afskeep waar jy saam met ander gereeld bemoedig en versterk kan word deur wat God vir jou voorsien het in sy Woord en sakramente nie.

Fokustyd, week 5 – Vrydag

Vrydag – Jou verhouding met jou diaken(s) 1 Tim 3: 4-13; Hand 6: 1-7   Jou kerk het diakens bevestig om die eenheid van liefde en dienswerk in jou kerk te stimuleer. Hulle taak is om die gawes tussen die lidmate so te gebruik en te lei dat niemand koud gelaat word nie en dat almal toegang het tot die gawes wat hulle kort: finansieel of andersins. Hulle werk nie namens jou nie, maar is daar om jou aan die werk te kry. Volg jy hulle leiding en ondersteun jy hulle planne? Bied jy jou gawes aan en maak jy gebruik van die geleenthede om te dien? Bid oor geleenthede waar die Here jou dalk wil gebruik.

Fokustyd, week 5 – Donderdag

Donderdag – Jou verhouding met jou ouderling(e)  1 Tim 3: 1-7   God het jou spesifieke ouderling(e) vir jou gegee om jou af te rig en te ondersteun in jou dissipelskap. Soos enige afrigter, kan hulle beswaarlik help en raad gee as jy nie ‘n oop verhouding met hulle het nie. Is jou ouderling bewus van die dinge waarmee jy sukkel? Is jy bereid om hulle te vra om saam met jou te kom bid? Moenie God wantrou om jou ouderling as sy instrument in jou lewe te gebruik nie. Ouderlinge is nie volmaakte mense nie en het ruimte vir groei, maar God het gekies om julle bymekaar te pas. Bel hulle en gebruik hulle as deel van God se werk in jou lewe.

Fokustyd, week 5 – Woensdag

Woensdag – Wat het jy nodig? 1 Kor. 12: 21-25   Sukkel jy in sekere opsigte op jou lewenspad? Is daar gebreke waarmee jy sukkel en wat jou keer om God te dien? Vermy jy ander Christene as gevolg daarvan? Miskien is die antwoord nie om ander uit skaamte of trots te vermy nie, maar eerder om ander op te soek om gebruik te maak van hulle gawes. God het ons vir mekaar gegee om mekaar nodig te hê. Om die beste in ons los te kan maak. Bid vir God se hulp, maar miskien het Hy jou reeds geantwoord in die vorm van die gawes van gelowiges om jou!

Fokustyd, week 5 – Dinsdag

Dinsdag – ongelukkig met wat jy ontvang het?   1 Kor. 12: 14- 20   Ons is geneig om te hou van wat ander mense het en ontevrede te wees met wat ons het. Ons begeer selfs die gawes van ander en is jaloers op hulle en hoe die Gees van God hulle gebruik. Dit kan veroorsaak dat jy uitmis op die werk en rol wat God wel vir jou het. Soos musiek verskillende klanke nodig het om ‘n mooi harmonie te maak, moet jy ook van ander verskil om by te dra tot die mooi geheel. Hoe eenvoudig jy dalk oor jouself mag dink, besef dat jy nodig is om ʼn mooi geheel te skep.

Fokustyd, week 5 – Maandag

Maandag – Wat het jy gekry?   1 Kor. 12: 7, 11   Die Heilige Gees van God stel elke dissipel in staat om goed in ‘n paar spesifieke dinge te wees. Beter as wat gelowiges oor die algemeen daarin is. Hierdie gawes is ook soms baie verskillend. Party lyk buitengewoon, soos genesing en ander kan weer baie meer gewoon wees soos bemoediging. Maar almal is van gelyke waarde en word gegee soos God se Gees daaroor besluit. Daar is ook nie ‘n finale lys van gawes in die Bybel nie. Wat het jy gekry? Kan jy aan dinge dink waarin jy veral goed is en jy jou kerk mee kan dien? As jy nie weet nie … hoe kan jy begin om uit te vind?

Fokustyd, week 5 – Toerusting

Wat ‘n wonderlike voorreg vir elke dissipel om te dien in die missie van God!   Maar wie sal hulle ondersteun, aanmoedig, gids, lei, help, leer, onderrig, mentor, afrig en toerus om Christus met hul lewens in hul gemeenskappe te volg? Om die deelname van elke lid met hulle gawes te verbeter?   Almal is geroep om te dien maar Jesus het spesifiek ouderlinge (predikante ingesluit) en diakens geroep om die dissipels toe te rus vir hulle werk waardeur die liggaam sal groei. Hierdie mense is nie verkies om die ‘kerk-werk’ namens die res te doen nie. Ouderlinge en diakens se doel is die volwassenheid van die dissipels.   Ouderlinge begelei lidmate om hulle oë op Christus te hou en so te groei tot volwassenheid in hulle dissipelskap en diakens begelei lidmate om hulle oë op Christus te hou en so te groei tot volwassenheid in hulle dienswerk.

Fokustyd, week 4 – Donderdag, Vrydag, Saterdag

Donderdag – Jesus lei jou na ander mense toe v Joh. 20:21 & Matt 28: 18-20 v Waar sal jy land as jy Jesus volg? v Wat beteken Jesus se beloftes hier vir jou oor die taak?   Ons deel in dieselfde missie as Jesus. Wanneer ons uiteindelik begin om soos Hy te lyk – bevry van ons selfsugtige begeertes en selfgerigtheid… sal ons liefdevol betrokke kan wees in die lewens van ander. Christus sal jou lei om betrokke te raak in die lewens van die mense om jou. Jy kan dan dieselfde rol in hulle lewens speel as wat ander gelowiges gespeel het in jou geestelike ontwikkeling. Dit kan mense wees met wie jy reeds verhoudings het, of ‘n buurman wat jy nog nie so goed ken nie. As dissipel… moet jy uiteindelik ander ook dissipels maak en hulle help om by die familie van God aan te sluit. Bid dat God jou sal wys en lei waar jy liefdevol betrokke kan raak in die lewens van ander.   Vrydag – Jou rol in die liggaam van Christus Efesiërs 4: 12-16 Wat is God se doel met jou gawes?   As ‘n dissipel van Jesus is jy nie bedoel om alleen te werk nie. Een persoon kan nie alleen ‘n gemeenskap of dorp bereik nie. Selfs Jesus het gesteun op die liefde, gebede en ondersteuning van sy dissipels. Elke dissipel het gawes en geleenthede ontvang om ander weer in staat stel om Jesus beter te volg en te dien. Wanneer elke dissipel in God se familie hul unieke bydrae lewer word Jesus Christus se liggaam gesond en opgebou. Is jou plaaslike kerk ongesond of aan die krimp omdat jy nie daar is nie? Dien jy met opoffering? Dalk mis jy selfs uit op die gesonde inset wat ander in jou lewe kon gee?   Saterdag – Moeg en seer? Hebreërs 11: 32-12: 3 Wie is Jesus volgens 12:2? Hoe moedig dit jou aan?   Mense stel jou teleur. Jy stel jouself teleur. Projekte misluk. Mense wat jy gehelp het draai terug na hul ou weë. Jou moeite by jou kerk word nie erken nie. Jy werk vir jou eie groei en dié van ander… maar dit gaan nie soos jy gehoop het nie. Jy ervaar dalk selfs weerstand of bedreigings. Wel, dan is jy in goeie geselskap. Vertroue in Jesus as sy dissipel is om te volhard in situasies wat hopeloos kan voel. Kyk verby die lyding wat nou deel van jou pad is en sien Christus en Sy voltooide werk vir jou raak. Sien dan hoe Hy ook verby sy lyding gekyk het en vasgehou het aan die vreugde wat by sy Vader in die toekoms gewag het. Hy sal sy goeie werk waarmee Hy in jou begin het klaarmaak. Onthou dit … lig jou kop op, hou jou oë op Jesus, nie die omstandighede of mense nie en volhard. Vreugde wag!